AFRIKAANS     ENGLISH

Erfenis

Rooderandt is die liefdeskind (darem binne die eg gebore) van dramaturg en volksboukundige Pieter Fourie en sy vrou Maletta.

Pieter is sy lewe lank al lief vir ou volkshuise. Reeds in die laat tagtigerjare het hy die Sandveldse opstal Kapteinskloof, tussen Piketberg en Velddrif, gerestoureer.

In Maletta, ´n ontwerper en skilder met wie hy in 1995 getroud is, het hy ´n sielsgenoot gevind. Hulle het Rooderandt in 1997 gekoop met twee volkshuisies as die enigste verbeterings op die grond.

Pieter en Maletta het Mieta se huisie gerestoureer, en in 1999 die herehuis in die ou Karoostyl laat bou. Die swaar populierstomp-dakstutte en die AGA-stoof in die kombuis moes met ´n mobiele hyskraan in plek gelig word. Pieter-hulle het oorwegend materiaal uit die omgewing gebruik, of waar nodig dit uit ander dele van die Karoo laat aanry. Die klipblad waarop die ontbyt-buffet uitgepak word, kom byvoorbeeld uit ´n Laingsburgse rivierloop.

Pieter en Maletta het die huis binne versier met oudhede wat hulle oor ´n leeftyd versamel het. Die voordeur se onderdeur het Pieter byvoorbeeld in die laat sewentigerjare gekry toe hy by Simon van der Stel se jaghuis gaan inloer het, net om agter te kom dat die Simon van der Stel-stigting die oospronklike deur tydens restourasie verwyder het, en dit eenkant in die veld gelos het.

Die laaste toevoeging tot Rooderandt was Pieter se skryfhuisie. Maletta en Wiele, seun van Mieta na wie Mieta se huisie vernoem is, het dié huisie met sy glasbottelvensters as ´n verrassing vir Pieter gebou toe hy op ´n keer in Gauteng moes gaan werk.

Behalwe dat Rooderandt ´n lewende monument vir die skeppendheid van twee besondere mense is, bewys die unieke indruk wat dit laat ook hoe waar die sakereus Anton Rupert se woorde oor bewaring was: "Historiese geboue... bewys... dat ons lankal reeds hier is en hier hoort. Deur behoud van die goeie uit die verlede verhinder [ons] dat alles oral saai en eenders lyk."

Omtrent Ons | Akkommodasie | Etes | Ligging | Erfenis| Kontak Ons


Copyright © 2017  ::  Rooderandt  •  Site by:  WebWorX